Tuis » Taal » Prosa & poësie » " Die man met die helm " deur C. LOUIS LEIPOLDT
" Die man met die helm " deur C. LOUIS LEIPOLDT [boodskap #72433] |
Fri, 24 January 2003 21:36 |
|
Oorspronklik gepos deur: @rogers.com
C. Louis Leipoldt
Die man met die helm
Ek droom by dag as deur die groen gordyn
Van sonneprag-gedoste wit pop'lier -
Waarin die son se glans en goud verdwyn
En met die silwer van die blare vier,
In vreugde en triomf van tergende lig,
'n Daagliks oorherhaalde huweliksfees -
Die sonnegloed val op my bleek gesig
En vrede bring en krag waar vrede en krag moet wees.
Want droom nòg dagwerk nòg die drang wat druk
Al vorentoe vir hom wat liewers vry
Van wêreldtwis en wêreld-ongeluk
En baar genot en brokkelig' roem wil bly,
Gee rus en krag waarteen 'n mens kan leun
In bitter dae. Die Natuur alleen,
Wat moederlief met moederstreling steun,
Bring ongevraag haar son en sterrelig se seën.
En ek, wat in my ongebore bloed
Die sienersmart gesuie het en deur
My siel laat deurstroom het sy gif vir goed -
Ek, trots my rang, het reg op tyd vir treur -
Op tyd waarin ek oor my smart kan dink,
En volle rekening van die dag kan vra,
Hoe diep in droefnis my gedagtes sink
Eer ek, deur lig versterk, my smart alleen kan dra.
Die sienersmart het in my siel getrek
Voor ooit my oog die onweerlig kon merk -
Die smart wat siel en sin uit lid verrek
En krag verswak - al is my krag ook sterk;
Waaronder ek moet ly my lewe lang;
Wat ek moet dra, my dae deur, bedwelm
Tot byna dood en byna stuipe-bang -
Ek, hard getergde mens gebore met die helm.
Dit was my wens nie deur die wand te skou,
Nie grendelvaste blindings oop te slaan,
Dat vroeë môrelig met môredou
Die lang-gesluite kamers in kon gaan.
Ek wou geen kers hê vir die donker nag,
Geen sluiers wegruk en daaragter kyk:
Ek wou nie weet wat voor my staan te wag,
Hoe pragtig ook voor my die toekoms nog mag pryk.
Begerig was ek nooit die golwe deur
Te swem om die stil agterwater-groen
Se sagte streling om my lyf te speur,
Waar die diep moedersee my wange soen;
Nie ongeduldig soos 'n kind was ek
Om hoogste wetenskap hier te vergaar,
Die toekoms vol geheim'nis te ontdek,
En kennis op te doen met kragte nog onklaar.
Vir my was hierdie wêreld goed genoeg
Soos ek as mens die wêreld het kom kry -
Die braakland bruin, nog vreemd vir eg en ploeg;
Die boggel-koppies, wat die blou lug sny;
Die huldiging van lente en somertyd;
Die wedu-prag van winter in sy bruin;
Die luist'ryk weelde ná die voorjaarstryd;
Die trots van kleure en groen hier in my noordertuin:
Ek was gereed om as Gods gawe al
Wat rondom is of wees sal, aan te gryp -
Die wonderwerke in vlakte, kloof en dal,
Oordek met somerruigte of winterryp;
Klaar in geduld, onwetend, om te gaan;
Miskien 'n vraag te vra en nie te eis
'n Antwoord: "Woon daar mense in die maan?"
Of: "Waar ons eind'lik aanland ná ons aardse reis?"
Eenvoudig, soos die voëltjie wat sy gang
Klapwiekend en welwillend vooruit gaan,
Sonder 'n onweerstaanb're binnedrang
Wat hom moet skuiwe sywaarts uit sy baan,
Was ek gereed die lewe deur te ry
En op die einde, as die Dood my vra
Om mee te stryk, standvastig aan sy sy
Die kou nag in te kruip en nie daaroor te kla.
Die opgesuigde gif van sienerskrag
Het vroeg die vrede van my tyd gesteel,
My helder lig verswart tot middernag,
En my ontsê te dink en te verbeel -
Want ek moet sien, al wil ek ook nie kyk,
En luister ook, al wil ek liefs nie hoor,
Die spookgesigte van die doderyk,
Die klaagmusiek wat klink 'n doodslied in my oor.
Dit is my deel, my lot, wat oorgeërf
Van vroe'r profete, wie se bloed ek dra,
My siel tot las is en my lewe verf
Tot ek dit nie meer ken nie, en my pla
Tot ek die Dood as vrind beskou en vlei
Sy vrindskap voor hy nog my vrind kan wees:
Dit is my deel waarteen geen mens kan stry -
Die sienerskrag wat sien tot in die siel van vrees.
Ek kyk deur vensters met my sienerskrag
Waardeur geen skepsel ooit met oog kan skou -
Geheime vensters met 'n spokeprag,
Gekrans met liefde en omraam met rou,
Met traanloos lang-verlangde liefde en wee,
Wat oopgaan oor 'n stille woesteny
Of oor 'n sag slaap-sussende, somb're see
Van deur-verdraagde smart, wat nog kan dra en ly.
Ek vlug die vlaktes deur om vry te kom,
Die tyd-geknaagde klowe in vir skuil;
Die hoë krans is my 'n heiligdom,
Waar eers die nag sy lig vir swart verruil;
Ek jaag die lang, rooi vaarpad af, waar stof,
Die rooibruin stof, my oog laat traan, en tree
Mismoedig in 'n skemer, duister-dof,
Waar alles wissel en wyk, onrustig soos die see.
Ek sien wat selfs my sinne nie kan vat,
Onmenslik' dinge, magtig in hul mag -
Die jongste lewe, struikelend op sy pad,
Jaloers op liefde wat na liefde smag;
Die oudste, bitter gierig na die gal
Wat in die laaste beker lê verskuil,
Sat van die voor- en najaarsprag en al
Die martel-smart en wee waaroor die wêreld huil.
Geen rus vir my is winter met sy wit
En grys en bruin en purper prag van kleur;
Geen rus voel ek as ek hier stil moet sit
En om my al die voorjaarsguns bespeur -
Want in 'n gloed van bitter martel-glans
Moet my moeg oë in die toekoms staar,
Waar skimgedaantes in die skemer dans;
En flou verstand staan stom voor wat my oog gewaar.
Grys lyne in die verte, waar die vlei
Met pers van nuut-gebraakte ploegland spog,
Verwissel met die weelde van opsy,
Waar rooi papawers in die groengrys rog
Bont vlekke maak; die hemel helderblou
En wolke-ontbloot, met lig verheerlik bo -
Die ou geheime hemel - hy wat hou
In duister en in lig, waaraan die mensdom glo.
Die geil-groen, lae lande lê gestrek,
Verkwik met son ná al hul wintersmart;
Die swart verskroeide veldgrond maak 'n vlek
Van purper vlak daaragter en apart;
Die mielielande, nog van groen ontbloot,
Gee bruinblou skadu's aan die linkerkant,
En aan die regter loop die watersloot
Met droë daggabos en salies om sy rand;
Die kale takke van die bome, bleek
Met armoed van die aaklig' winterwee,
Word ryp vir groter weeld'righeid en breek
Met las van sap wat nuwe sterkte gee -
Want lewenswarmte het die grond gesoen.
Die roudrag van die winter word alom
Verander in die varse voorjaarsgroen;
Die perskes is aan bot, die appelkose blom.
Die wapad lê daar rustig, en die werf
Is sedig met die daagliks' môrewerk;
Die melkkoei kou geduldig aan haar gerf;
Die broeihen roep haar kuikens met haar vlerk;
Die keffertjies speel vrolik by die voor,
Waar statige makoue raad kom hou;
Die ringduif stap waar niemand hom kan stoor;
En op die kraalmuur pronk 'n koninklike pou.
Hier naasaan staan 'n kafferboom. Sy rooi
Spog oor die werf in geil skarlaken prag;
Hy troon as bobaas met sy kleur en nooi
Die môrebye en die mot by nag;
'n Parlement van singende goggatjies,
Gelok hier deur sy skaars bespeurde ruik,
Woel oor sy blaarloos blomme en verkies
Sy rykdom bo die goud van bloeiende doringstruik.
Daar trek 'n tingerig' rokie op, wat grys
Soos vroeë môre-vleimisdonsies skyn
En soos 'n smeekgebed na boontoe rys
En in die lug se perlemoen verdwyn -
'n Kalm deurleefde lewe; uit die grond,
Uit vuur en smart gebore, sterk en vry,
Om regop in die reine môrestond
En eind'lik, krag-verspil, die wêreld deur te sprei.
So was my lewe in my waan vir my!
Want bly verbeelding kon niks beters skep
As eindpunt dan wat mis en wolke kry
Eer dat hul krag vergaan, hul kleur verlep -
Kans om oplaas die liefde-arme in,
Verenig met die ewige lig, te wees,
En in vergaan onsterflikheid te win,
En skim te meng met skyn, en gees met groter gees.
Onsterflik? Ja, want niks wat is, vergaan;
En al wat was, kom op sy tyd weer t'rug;
En wat sal wees, het eenmaal reeds bestaan,
Soos die nat wolke in die vogtig' lug.
Die rein volmaakte kring wat alles raam,
Hou lewe vir 'n duimpie van sy rand;
En wat ons siel noem, is 'n vonk wat saam
Met duisend vonke vlieg om tot 'n vlam te brand.
Die trots wat torings stapel tot 'n troon
Vanwaar die wond're wêreldbol te skou,
En die vlak lande minag en verhoon,
En op veronderstellingsande bou,
Wat vir die Almag menseperke stel
En Almag self vermenslik tot 'n nul,
Wat alles weet van hemel en van hel,
En hoe Voorsienigheid sy laaste plig vervul;
En eie guns, wat tot vooroordeel groei,
Wat stomp die rede neerdruk en verstom;
Skynheiligheid, wat, geil en nooit gesnoei,
Jaloers die kinderlik' genot verkrom,
Wat uit geloof 'n misgeboorte draai,
'n Ou paaiboelie-afgod van die nag,
Wat met sy aaklig-angstig' sabel swaai
Oor alles wat na liefde en ware lewe smag;
En onverdraagsaamheid, wat vyand noem
Al wat nie in sy spore voorwaarts loop;
Misguns, wat op 'n nare deursig roem
En vrindskap deur veragtelik' ontrou koop;
Onwetendheid, wat teen verstand wil staan
En op gesag as fondament wil steun,
Onmondig oordeel, roek'loos in sy waan;
Onmensheid, wat nie hoor as al die mensdom kreun -
Dit alles was en bly vir my 'n las
Waarmee my mensdom mislik deur moet veg;
Daardeur omklem, soos bome deur hul bas,
Kry ek geen kans om deur te dring en weg
In reiner oorde met my siel te kom,
En af te skud die bitter sienersmart.
My wêreld is hierbinne, en alom
Is aaklig niks as leegte en duister, donker, swart.
O arme sorgsaam siel, wat sweet en bloei,
Ellende-moeg, in mislik' onmag voort;
O armer siel, wat aaklig veg en stoei,
En skreiend klagte uiter ongehoord;
O trane-tartende trotshoof wat wil veg
Die wilde dwing'land-wêreld wat jou kwel,
En as kampioen wil keer wat goed verkneg
Tot pure kwaad en mag in plaas van reg wil stel;
O arme sorgsaam siele, kom en skou
Soos ek die dae in, gordyne deur,
En sien hoe wraak verswak, en hoe berou
Almagtig loer en oor die mensdom treur;
Hoe onreg wegsink, sag, soos in die see
Die dooi lyk met sy vrag van lood belaai;
Hoe alles één word, en die Almag gee
Sy nuwe krag vir saad wat weer word oorgesaai.
|
|
|
|
|
Gaan na forum:
[ XML-voer ] [ ]
Tyd nou: Sun Dec 22 09:37:43 UTC 2024
|